Die nuwe jaar 2018 skop af met ‘n interessante astronomiese verskynsel: dit het die geagte leser sekerlik opgeval dat Januarie en Maart elk twee volmaande het, daarenteen Februarie geen. Die volksmond praat van hierdie verskynsel as ‘n „blou maan“ (blue moon).

God het hemel en aarde en die hemelliggame geskape. In die Bybel word die „maan“ by meer as 40 plekke genoem. Die eerste keer vind ons ‘n verwysing na die son en maan in die storie van die Skepping (Gen. 1,15), daar word dit egter net „ligte“ genoem. „God het beveel: Laat daar ligte wees aan die hemelkoepel sodat dag en nag onderskei kan word.“ En aan die einde van die Bybel, in Openbaring 21 (die hoofstuk waaruit ons jaarspreuk van die lewegewende water kom) word van die nuwe hemelse Jerusalem geskryf: „dit het ook nie die son en die maan nodig om dit te verlig nie, want die Heerlikheid van God het dit verlig.“

Die reëlmatigheid van die son en maan se bewegings aan die hemelruim het sedert oertye die moontlikheid aan kulture gegee om „tyd“ te onderskei en te meet, so ook aan plante, diere en die seisoene. Veral die groeifases van die maan het ‘n sterk invloed gehad op alle menslike kulture deur die eeue. Vir baie mense het dit nou nog ‘n direkte verband, dink maar daaraan dat dit moeilik kan wees om te slaap as die volmaan op jou gesig skyn. Mense en kulture het aan die verandering van posisie en patrone van die maan betekenis gegee, dit het vir hulle die arbeid en insette van plant en oes van hulle gewasse bepaal. Dit het ook die jag- en visvangtye gedefinieer. Selfs die diere- en planteryk lewe volgens hierdie ritme; dink maar hoe hoog- en laagwater die lewe van skulpe en ander wesens aan ons kus bepaal. In die Bosveld wei die diere langer by volmaan. Dit is dan ook nie verwonderlik nie dat ‘n ryke verskeidenheid van gesegdes en betekenisse deur die eeue heen aan die maan gekoppel word, soos byvoorbeeld: „van die maan getik wees,“ – „al ons pogings en geld is nou na die maan“ – „lewe die ou dan agter die maan dat hy nog nie van Trump gehoor het nie?“

Sedert vroegste tye was die verskynsel van die donkermaan iets onheilspellends, vreesaanjaend en spookagtig vir die meeste kulture, om nie eens te praat van ‘n maansverduistering nie! Die donkermaan was die tyd waarin skurke, towenaars en hekse hulle „duiwelse kragte“ teen ander ingespan het. Veral is daar geglo dat ‘n maansverduistering van die volmaan besondere donker kragte ontketen, omdat die maanoppervlakte ‘n kleur soos metaalagtige koper kry, dit weens die stofdeeltjies in die aarde se atmosfeer. Sekere kulture noem dit dan ook die „bloedmaan“.

Maar laat ons terugkom na ons huidige twee volmane per maand, die verskynsel wat genoem word „blou maan“. Soos ons weet, bestaan die maan-maand uit 29 dae en twaalf ure (een omwenteling van die maan om die aarde). Dit veroorsaak dus, dat die volmane op ‘n gereëlde basis elke volgende maand een dag vroeër plaasvind. Weens die verskuiwing van die aantal dae in die kalendermaande EN die bykomende ure, gebeur dit dat hierdie ritme af en toe verander.

Daar word dus gepraat van twee verskynsels wat so ontstaan:
Eerstens is daar die seisoenale blou maan wat plaasvind in ‘n „astronomiese“ seisoen van drie maande, as dit vier volmane bevat. Dan word die derde een ‘n blou maan genoem.
En tweedens is daar die verskynsel van ‘n tweede volmaan binne die bestek van ‘n kalendermaand. Dit kom elke tweede of derde jaar voor. Dit het nou betrekking op ons jaar 2018. Dis ook ‘n blou maan.

Maar: die ongewone verskynsel van 2018 bestaan nou daarin dat ons ‘n dubbele blou maan het, dit is in Januarie sowel as in Maart. Hierdie verskynsel is selde. Dit gebeur tussen 3 en 5 keer per eeu. Die volgende jaar, wat ‘n dubbele blou maan gaan hê, is 2037. (Net vir die rekord: die vorige een was 1999.)

Europese toeriste vind dit verrassend dat die maan hier in die Suidelike halfrond andersom gesien word. Hier by ons sien ons die maandfases (veral die nuwe maan) „bakkievormig“, dit wys die oop kant na bo, omgekeerd as in die Noorde. Dit het niks met die maan self te doen nie, maar met die posisie van waar af jy kyk, ons in die Suide kyk van „onder“ af na die maan, hulle in die Noorde van „bo“ af.

Vir ons as kinders van die Here hou die maan niks onheilspellends in nie, ons verheug ons in Sy skepping. Ons bring lof aan God, wat gestalte, krag en tyd aan die grote Skepping gegee het en ook elkeen van ons kleine mensies daarby ingesluit het.

Ulrich Sachse (artikel en foto)