Kreuzkirche, dink ek, kan trots daarop wees dat ons daarna streef om ‘n inklusiewe gemeente te wees, met verskillende tale in ons Sondagdienste. Ons het die Engelse, die Afrikaanse en die Duitse dienste op hul tye in die maand. Hierdie jaar het ons begin om die Afrikaanse diens op die eerste Sondag van die maand te vermeng met die Engelse diens om 9:00. Hierdeur probeer ons nog mense betrek wat hou van die Afrikaanse liturgie, maar ook Engels kort om meer te verstaan. Ons wil die groep wat saam aanbid groter maak, sodat ons as gemeente verder kan uitbrei en groei in hoe ons inklusief omsien na ons gemeentelede en ook oop bly vir ander.

Die eerste diens aan die begin van Januarie het goed verloop en mense sê hulle het dit geniet om dié twee te vermeng, dat die tale en die liturgie mekaar aangevul het. Hierdie woorde was vir my gerusstellend, aangesien ek bietjie onseker was oor of dit gaan werk of nie. Tog, dink ek het God weereens bewys dis die Heilige Gees wat die boodskap en Woord oordra op die dag en ons word ingenooi om deel te wees van daardie gebeurtenis.

Ek wil al ons lidmate wat in Afrikaans wil aanbid uitnooi om moeite te maak om op die eerste Sondag van die maand te kom en ook ander, wat dalk ongemaklik is met Engelse dienste. Ons wil ‘n plek skep waar alle gelowiges God in hul taal kan aanbid en God se woord ook so ontvang. Kom ons hou aan om God in ons verskillende tale te aanbid en te prys, soos ons hierdie jaar inbeweeg en wees gerus of jy nou Duits, Afrikaans of Engels is, is hier by Kreuzkirche altyd plek vir jou.

20

Schalk Treurnicht