Nog ‘n vertaling van die Bybel in Afrikaans: Wat maak dit anders?

Daar is in al die tale van die wêreld verskillende vertalings van die Bybel en in 2020 is die Nuwe 2020 Afrikaanse vertaling van die Bybel vrygestel. Die rede hiervoor is ‘n verdere soektog deur kerke om ‘n vertaling te hê wat verstaanbaar is in idiomatiese Afrikaans en tog na aan die bronteks bly. Dus ‘n ‘Direkte’ vertaling wat na aan die bronteks bly, maar ook in ‘n verstaanbare Afrikaans. ‘Dit moet wees asof die vertalers die skrywers self aanhaal’.

Dit is egter ‘n moeilike taak aangesien taal in ‘n mens se kultuur en lewenservaring ingebed is en nie daarvan losgemaak kan word nie. So ook vir die skrywers van enige teks, word dit wat hulle sê beïnvloed deur hul eie kultuur en ervarings van die lewe. Om hierdie rede is kommentaar op sekere woorde of uitdrukkings nodig om die leser van die vertaling te help. In die 1637 Dutch translation het die vaders van die Reformasie ook hierdie insig gebruik en so baie kommentaar of notas gelos om die leser te help. Die 2020 vertaling maak ook gereeld gebruik hiervan met inleidings tot die boeke in die Bybel, voetnotas en ‘n woordelys.

Vir die vertalers om so ‘na aan die regte’ betekenis van die teks te kom, moet daar op ‘n vertalingsmodel besluit word om die Hebreeus en Grieks van die Bybel na ‘n verstaanbare idiomatiese Afrikaans te vertaal. In die 1933/53 vertaling vind ons ‘n hoë mate van woord vir woord vertaling. In die 1983, Die Bybel vir Dowes (2007) en die Nuwe Lewende vertaling (2006) kom ‘n sogenaamde dinamiese of funksioneel ekwivalente vertaling voor. Hierin word die verstaanbaarheid van die betekenis van die bronteks gestel bo om nader aan die bronteks te bly. Dit word ook ‘n parafrase genoem en kom met sy eie gevare, omdat die vertaler gereeld die keuse van wat iets beteken moet maak. Die model waarop die span vir die Nuwe 2020 Afrikaans vertaling besluit het, is ‘n kognitiewe taalkundige model, wat die volgende ingedagte hou: eerstens is daar veranderings in die konseptuele wêrelde van die skrywers en ons vandag, wat ingedagte gehou moet word. Verdere ontwikkeling in kennis van die konteks het gelei na beter verstaan van betekenisse van sekere konstruksies en hoe hulle van mekaar onderskei kan word.

Tweedens kom alle taaluitinge in ‘n sekere vorm en die verteller of skrywer kan net volledig verstaan word, wanneer dit ingedagte gehou word. Die taalvorme wat die skrywer of spreker gebruik verteenwoordig die konstruksie van die gebruiker se persepsie van die werklikheid. Dus kan die inhoud wat gekommunikeer word nie bepaal word sonder om die vorm waarin dit aangebied word volledig ingedagte gehou word nie.

Derdens moet ingedagte gehou word dat sekere van ons woordeboeke en grammatikas verskillende waardes aan sekere woorde heg. Dus is dit nodig vir kommentaar en notas op sekere woorde, soos reeds boontoe genoem. ‘n Voorbeeld hiervan is dat die rooi van rooi lipstiffie verskil van die rooi van ‘n rooijakkals.

Vierdens kom daar met tyd betekenisverskuiwings van konstruksies. Dus kan A tot B en dan na C verander, maar nie alle woorde teen dieselfde pas nie. Dit beteken dat ‘n woord kan oorvleuel met ‘n ander maar ook nie dieselfde wees nie. Soos byvoorbeeld die rooi van lipstiffie is anders as die rooi van rooijakkals, maar nader en ‘n bietjie oorvleuelend met die rooi van ‘n veluitslag.

Vyfdens kom daar met nuwe kennis van die tyd waarin die bronteks geskryf is ook beter verstaan van hoe liggaamsdele as spreekwyse gebruik word, soos hand, hart, keel ens. ‘n Voorbeeld hiervan is dat in amper alle tale word ‘om in die hand van x te wees’ verstaan as ‘om in die mag van x te wees’. ‘n Voorbeeld uit die 2020 vertaling is die woord ‘שׁפֶֶ נ’ wat in die verlede as ‘siel’ vertaal is. Met verdere ontwikkeling in die denkwyse van die Hebreeuse wêreld het ons verstaan van die woord oorbeweeg na ‘n vertaling as ‘keel’.

Die soektog na ‘n nuwe idiomatiese Afrikaanse vertaling met al die bogenoemde uitdagings ingedagte, het gelei tot die Nuwe 2020 Afrikaanse vertaling. Dit is volgens my ‘n baie goeie vertaling, wat vir my help om die Bybel weer met nuwe oë te lees en nuut deur die Woord van God verras te word. Tog weet ek dat, nes alle ander Bybelvertalings, dit die produk van mense is en so nie sonder fout of onsekerhede is nie. Daarom word dit ook met gebed en ‘n opgewonde soektog na God se waarhede gelees.

Deur prof. CHJ van der Merwe. Verwerk deur Schalk Treurnicht.