Liewe Gemeente,
Ons leuse vir Februarie kom uit Lukas 10,5:

Wanneer jy in ‘n huis instap, laat jou eerste woorde wees: Vrede vir hierdie huis!

Daar word gesê, dat eerste indrukke belangrik is. En inderdaad is dit so! Die eerste indruk wat ‘n mens op jou maak laat altyd spore agter, ook as die indruk by nadere kennismaking nog moet verander. Partykeer moet ‘n mens jou inskatting opgradeer, soms moet jy dit afgradeer. Maar hele partykere is jy ook reg in die kol. Daarom is dit belangrik om ‘n bietjie te besin oor watter indrukke ons wil agterlaat en tot watter mate daar ooreenstemming is tussen die gewenste eerste indruk en die werklike persoon wat ek is. Gewoonlik is die beste opsie, wanneer werklikheid en indruk ooreenstem: “Wat jy sien, is wat ek is.” Geen oordrywing, geen verdraaiing. Wanneer Jesus ons dus oproep om met ‘n vredesgroet in ‘n huis in te stap, moet ons daarvan uitgaan dat Jesus nie ‘n geveinsde vredeliewendheid by ons soek nie. As ons ‘n vredesgroet uitspreek, behoort dit ook waarlik uit die hart te kom of ten minste ‘n opregte wens aan die bepaalde huishouding te wees.
Om vir iemand of ‘n huishouding vrede toe te wens, is tog ‘n pragtige begroeting. In ‘n wêreld wat gekenmerk is deur so baie onvrede en struwelinge, is dit goed om ‘n opregte “Goeie Wens” te ontvang, veral as dit ‘n besoeker is, wat van die huis se gasvryheid op die een of ander manier gebruik wil maak. En nog beter is dit as die besoeker se gedrag en dade ook werklik vredeliewend is en tot die huis en familie se welsyn bydra!

Ons kan seënwense ook as ‘n afskeidsgroet gebruik. Good bye het uit die ou Engelse “God abide with you” ontstaan. Adé kom uit die Franse “Adieu” (Ek beveel jou God aan, in Duits is dit: Gott befohlen).

Dalk ken julle nog ander groet- of afskeidswoorde van seën en vrede?

Pax vobiscum!
Pastor Peter