Wie van ons kon ooit droom dat ons ‘n jaar soos 2020 sou beleef? Baie dinge het anders geword. Niemand weet wat nog kom en hoe lank die grendeltyd nog sou wees. Maar daardie spesiale dae kom! En hoe gaan ons hulle kan vier? Elke familie het tradisies opgebou.
As een van die kinders verjaar is daar verwagtinge en wense. Nou kan daar skielik nie meer enige gaste genooi word nie. Hulle bel maar net en wens geluk. Of hulle sing “Happy birthday” oor die foon. Hulle belowe om later in die dag ‘n geskenk af te laai. Gelukkig was dit gedurende die weke moontlik om ‘n bos blomme te koop, ‘n ballon op te blaas, ‘n kers op te steek. Maar wat van eetgoed en drinkgoed. Ek self was gelukkig om genooi te word vir ‘n piekniek van een van my kleinkinders. Elkeen het ‘n eie kosblik gekry wat my dogter met liefde voor die tyd voorberei het. Die son het geskyn. Ek kon my kinders en kleinkinders na weke weer sien. Ons was in ‘n park in die buitelug. Voor ons weer in die motors geklim het, het ons nog ‘n ent gaan stap – met maskers. Daarna het ek weer alleen huistoe gery. My kleinkind was in haar skik. Al haar wense is vervul.
Natuurlik is daar behalwe verjaarsdae nog ander spesiale geleenthede. Ek het gehoor van ‘n baby shower waar al die “gaste” in ‘n ry agter mekaar op ‘n bepaalde tyd by die woonplek verbygery het, stil gehou, die geskenk voor die deur neergesit het en weer verder gery het.
Hoe werk matriekafskeid? Die datum lê lankal vas. Die spesiale rok hang in die kas. Dan moet ma inspring en ‘n feesmaal voorberei. Net die eie gesin gaan sit tuis aan tafel. Maar die rok word dié aand gedra. Die herinneringe van die leerlinge van die matriekklas 2020 sal baie anders wees as dié van al die ander jare.
Dan is daar natuurlik ook nog die geleenthede by die families wat iemand verloor het deur die dood gedurende die pandemie. Dienste, begrafnisse was vir weke nie moontlik nie. Jy moes op ‘n ander manier die hartseer verwerk en kon nie behoorlik afskeid neem nie. En wat van al die mense wat alleen bly. Daar is niemand met wie jy kan praat nie. Ouetehuise moes onder kwarantyn geplaas word as die virus toegeslaan het. Jy mog nie jou eie woning verlaat nie. Na al hierdie maande gedurende 2020 dink ons seker anders oor spesiale dae. Laat ons dankbaar wees vir alles wat moontlik is. Laat ons aan ‘n diens in die kerk deelneem met ander lede sodra die geleentheid kom.
As jy nie self kon inkopies doen nie, moes ‘n plan beraam word dat iemand dit vir jou doen. Mense kon nie werk toe gaan. Ander weer het hulle werk verloor.
Ek het van situasie gelees wat tydens die Tweede Wêreldoorlog gebeur het. Jy kon niks koop nie. Kersfees was aan die kom. Daar was niks geld nie en winkels was leeg. Toe het een gesin besluit, hulle moet maar op ‘n kaartjie skryf wat hulle sou skenk aan elkeen as dit moontlik sou wees.
A. Büttner