Uit Pastor se Pen
Ek het aan die einde van September gepreek oor 1 Petrus 5, waarin Petrus die gemeentes van Klein-Asië, vandag se Turkye bemoedig. In hierdie preek het ek self ‘n ‘briefie’ geskryf wat ek dink vandag na gemeentes om die wêreld kan gaan, wat nes ons moeilike tye deurstaan.
Ek deel graag daardie briefie met julle.
Ons skryf in onsekere tye, waar swaarkry nie altyd van verre magte of duidelike vyande kom nie, maar dikwels uit die spanning en vyandigheid onder dié rondom ons — selfs binne ons eie geloofsgemeenskap. Dit maak swaar tye moeiliker om te dra, want dit is naby, persoonlik en verwarrend. Tog herinner die Woord ons daaraan dat hierdie beproewinge slegs “vir ’n kort tydjie” is in vergelyking met God se ewige doel.
Daarom: beklee julle met nederigheid. Dit is nie swakheid nie, maar om die wese van Christus onder ons.
Christus het self hierdie pad geloop — nie vasgeklou aan mag nie, maar Homself verneder in diens. Om nederig te wees, is om God toe te laat om God te wees, eerder as om self beheer te probeer neem of ons eie wil af te dwing. Christus het self die pad van nederigheid gekies, Hom toevertrou aan die wil van sy Vader — en deur daardie pad het ons redding gekom.
Daarom: werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. Soos Luther gesê het, spruit bekommernis dikwels uit ongeloof — uit ons poging om te dra wat ons nie aan God vertrou om te dra nie. Maar wanneer ons ons laste aan Hom oorgee, kan die duiwel nie teen ons standhou nie, want hy kan nie die genade van God oorwin nie. Om hom te weerstaan, beteken nie om in eie krag te veg nie, maar om standvastig te bly in die geloof, terwyl ons die Een vertrou wat ons ondersteun.
En onthou: julle is nie alleen nie. Dieselfde swaar tye word deur julle broers en susters regoor die wêreld deurstaan. Julle beproewinge is nie sinneloos of eindeloos nie. Die God van alle genade, wat julle geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus, beloof dat Hy self, nadat julle ’n kort tydjie gely het, julle sal herstel, versterk en vestig. Dit is sy seker werk onder ons en in hierdie belofte staan ons saam. Van julle broers en susters in die geloof.
Ps Schalk Treurnicht