Ons spreuk vir Oktober staan in 2.Kor 3,17:

Daar waar die Gees van die Here is, daar is ook vryheid.

As ‘n mens ‘n bietjie rondvra by ander mense om te hoor wat vryheid vir hulle beteken, dan sal daar seker so veel antwoorde as mense wees.  Vir ‘n student is dit dalk om branderplank te kan ry elke oomblik van die lewe. ‘n Tiener sal vryheid dalk beskryf as die reg om haar eie haarstyl te kies. ‘n Ander sal weer verduidelik dat dit die reg is om sy stemreg uit te oefen en om geregeer te word deur ‘n demokraties verkose regering. Of om geskei te wees van ‘n nare eggenoot.

Luister ons nou na wat dit vir Paulus beteken om vry te wees: Vir hom is Vryheid om deur die Gees van God gelei te wees, sodat ‘n mens nie meer deur godsdienstige wette beheer word nie. Dis te verstaan teen die agtergrond van ‘n legalistiese godsdiens, waarvan hy eens ‘n felle aanhanger was. ‘n Eindelose getal reëls en wette het bepaal op watter manier hy God kon en moes dien en gehoorsaam. Totdat hy die opgestane Jesus op die pad na Damaskus ontmoet het, en tot die besef gekom het dat die Lewende God nie in wette en reëls te vinde is nie, maar in ‘n lewendige ontmoeting met Jesus Christus. En die Christus het aan ons sy Heilige Gees gegee, sodat ons verder, sonder die wette en reëls, maar onder die Gees se leiding, ons geloof mag lewe. In die krag van die waarheid en geregtigheid, wat spruit uit die Evangelie van Jesus Christus.

Wette kan altyd verdraai of omseil word, want daar sal altyd skuiwergate te vinde wees. Die Gees en Sy vryheid is oral en sal ons nooit  verlaat of versaak nie.

Vriendelike groete, Pastor Peter