Paulus skryf aan die Filippense 1,9:
“Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word deurdat julle ‘n al beter begrip en fyn aanvoeling ontwikkel.”
Naasteliefde, samehorigheid en eenheid, dit is die saak wat die inhoud vorm van die apostel Paulus se brief vir sy sending-gemeente in Filippi. Nie net dit nie, maar hy moedig hulle aan om op te kyk na Christus, as hulle Verlosser en voorbeeld in die lewe.
Paulus was reeds`n gevangene tydens die skrywe van hierdie brief aan sy gunsteling-gemeente. Anders as by enkeles van sy ander briewe, bestaan hier geen twyfel aan die outeurskap van Paulus nie, maar juis van ‘n ouer en `n „wyse“, vaderlike leier. In die brief is daar wel aanduidings van onaangenaamhede wat in die gemeente gedurende sy afwesigheid plaasgevind het, maar Paulus se woorde het nie die felle skerpte soos in die brief aan die Galasiërs nie. Vir Paulus was die gemeente in Filippi, `n stad gestig deur die vader van Alexander die Grote, van besondere betekenis, omdat dit sy eerste gemeente in Europa was. Die stad was `n belangrike deurgang vir handelsroetes en het `n Romein-se militêre basis gehad. `n Vergelyking tussen die twee belangrike gemeentes Filippi en Korinte kan soos volg gesien word: Korinte was in Paulus se tyd `n sentrum van geleerd-heid en gevorderde filosofie, terwyl Philippi hoofsaaklik uit vakmanne en handelaars bestaan het. Die gemeentelede was minder spitsvondig en het nie las gehad van vele uiteenlo-pende teorieë soos in Korinte nie. Nogtans maan Paulus tot eenheid, hy waarsku teen selfsug en pleit vir naasteliefde. Hy vra dat die gemeente `n „begrip en aanvoeling“ ontwikkel vir wat tot eenheid en liefde vir mekaar kan lei.
Wat sou Paulus van ons Kruiskerk se gemeente vandag gesê het? Ek dink hy sou kon vasstel dat Christus wel ons Heiland en Koning is, dat ons poog om na Hom op te sien. Maar ek dink ook Paulus sou gesien het dat ons partykeer deur eiebelang teleurgestel word, dat ons dit nie altyd maklik vind om drie verskillende tale en gemeenskappe in `n eenheid te bind nie. Ons kan seker daarvan wees dat Paulus ook aan ons kon sê: „Hou vas aan die Lewendige Woord, dit sal julle bemagtig om te onderskei wat regtig saak maak en julle laat volhard. Wees vol moed, want die Heilige Gees, wat die goeie werk in julle begin het, sal dit ook vir julle tot `n blye voleinding bring in Christus Jesus.“
U.S.