Soos ons die jaar 2025 begin, is dit ons begeerte om elke persoon uit te nooi om die genade wat Christus aan ons geskenk het, te betuig en uit te leef.

Hierdie jaar is ‘n geleentheid vir ons om te fokus op Sy genade en barmhartighede eerder as op die tekortkominge of geskille wat ons verdeel. Ons word geroep om Christus se eienskappe van liefde, nederigheid, geduld, vriendelikheid en vrede in ons woorde en dade te weerspieël, en daardeur/
sodoende lewende getuies te wees van Sy transformerende genade ten spyte die feit dat ons in ‘n wêreld van chaos, konflik, kritiek, oordeel, laster en elke vorm van boosheid leef.
In plaas daarvan om foute uit te wys of in argumente betrokke te raak, laat ons mekaar opbou met genadige woorde wat aanmoedig en verenig. Ons moet altyd in gedagte hou dat God, wat soewerein is om te oordeel, gekies het om ons nie volgens ons sondes te oordeel nie, maar volgens ons geloof in Christus.

Dit laat ons besef dat ons deur Sy genade verlos, genees en versoen is. Hierdie waarheid maak ons vry om ander te vergewe sowel as om die passie van evangelisasie in elke aspek van ons lewens te beoefen. Mag hierdie jaar ‘n jaar wees waar ons God se genade verkondig deur te strewe om Sy eienskappe uit te leef en daardeur genesing en hoop vir die wêreld te bring. Voorspoedige nuwe jaar, met baie seëninge!