Martin Luther het altesaam 40 liedere geskryf vir die gebruik in eredienste, skole en die huisgesin. Dit op sig self is al ‘n groot bydrae. Maar sy grootse verdienste is dat hy gesange opgeneem het as deel van die erediens. Dit was tot sy tyd nie die geval nie. Alleenlik die verskeie kore (Kantoreien) en die geestelikes (die priesters) het gedurende die eredienste psalmwysies en himnes gesing, die gemeen-tes self nooit nie. Vir Luther was dit van uiterste belang, dat die ge-meente in die erediens die geloofsbeleidenis gesamentlik met die priester/prediker moes spreek. Nog beter is: saam sing, dus het hy daarvoor die lied (in ons Laudate Gesangboek 132) geskryf: „Ons glo in een Almagt’ge God“. Luther het, self ‘n uitstekend goeie sanger en musikant, goed geweet dat woorde wat gerym is en gesing word hegter in die geheue bly sit.
Aan sy vriend Georg Spalatin skryf hy 1526: „Ons beplan om volgens die voorbeelde van die kerkvaders van weleer, liedere te dig vir die gemeentes; psalms en geestelike gesange, sodat Gods Woord ook in die gesingde vorm in die gemeentes en by die mense kan woon“.
Hierdie nuwe instelling is gretig deur al die ander reformatoriese bewegings aangegryp en het sedertdien wêreldwyd inslag gevind. Ons kan ons nou nie meer voorstel hoe aanbidding in die Christelike gemeente sonder sang kan plaasvind nie.
Ons Laudate Gesangboek se eerste lied, ‘n Adventslied, is juis een van Luther: „Heiland kom, die wêreld wag“. Hierdie lied is dus die „poort“ waardeur ons die gesangboek singend betree. Aan beide kante van die poort staan die twee skeppers van die lied, die Biskop Ambrosius van Milaan en Dr Martin Luther. Altwee van hulle het aan die begin van ‘n nuwe era in die kerkgeskiedenis gestaan.
Biskop Ambrosius (340-397) was die eerste persoon wat in die jaar 386 die gesange von die Christelike kerk neergeskryf het, en Martin Luther (1483-1546) was die eerste een, wat 1524 die gesange „in die gemeente se mond“ gelê het. Luther het die oorspronklike vorm van Ambrosius se Latynse digwerk (Veni redemptor gentium) behou, in wysie sowel as woorde, maar in Duits vertaal. Die lied is in die vorm van ‘n himne; elke vers bestaan uit 4 reëls, waarvan elke reël 7 letter-grepe het, en die laaste woord in elke reël eindig met ‘n medeklinker. In die oorspronklike sowel as in Luther se vorm is daar feitlik in elke reël ‘n werkwoord, dit maak die sinne/reëls elkeen kort en kragtig.
Die vertaling na Afrikaans in ons Laudate gesangboek is deur Reino Ottermann meesterlik gedoen. Hy het hom getrou aan die vorm van die oorspronklike himne gehou. Ook in sy skepping is die sinne kort en kragtig, in wonderlike Afrikaans, ‘n egte juweel in ons Laudate gesangboek. Hier onder is die lied afgedruk; kyk en bestudeer gerus die perfekte vorm daarvan en sing dit dan!
