Elsa Joubert – Missionaris   – Roman – Tafelberg 1988   –     ISBN 0 624 02663 9

Etlike weke gelede is Elsa Joubert en haar boek “Missionaris” weer iewers in die pers genoem. Dit het die geleentheid gebied om weereens, na soveel jare, hierdie interessante en boeiende beskrywing oor die lewe van die sendeling Aart Antonij van der Lingen te lees en te waardeer. In ’n gesprek, wat sy jare gelede met die skrywer van hierdie resensie gevoer het, het sy die eerste sin van haar boek bevestig: “Die persone, gebeurtenisse en geskrifte waarop dié roman berus, is histories juis.”

Sy beskryf die lewe van ‘n jong Hollandse boekhouer, wat in Rotterdam tot bekering kom en geroepe voel om die Evangelie in Afrika te verkondig. Dit bring hom na die “Caap”, waar hy deur die lede van die Zuid Afrikaanse Genootschap voorberei word om in die Oos-Kaap, Graaf Reinet, as dominee van die blanke Hollandsprekende gemeente te dien. Die onenigheid en spanning tussen die blanke gemeente en die sendingwerk onder die “Hottentotte” het daartoe bygedra dat sy diens voortydig tot ‘n einde kom. Terug in die Kaap trou hy met die dogter van die medikus, voordat hy op die volgende twee “sending-reise” na die Noorde, (na die Biriquas,) gestuur word.

Gegrond op die karige inligting van sy (onvolledige) dagboek en enkele briewe en dokumente uit ‘n lewe wat eintlik in sy roeping misluk het, slaag die skryfster tog daarin om vir ons die teenstelling tussen die verfynde kultuur aan die Kaap en die woeste binneland uit te beeld. Sy plaas haar “sendeling” te midde van die kerklike omstandighede en vyandighede (kerk teen sending, Europees teen “Hottentots”, Engelse regering teen die boere en Xhosas), en gee ’n lewendige insae in die “Caap” en sy omgewing.

Aart se enigste seun het hom in Nederland as teoloog bekwaan en het 38 jaar in die Paarlse gemeente (Strooidakkerk) gedien, waar sy graf is. Hy het die Pinksterbidure ingestel, wat hier later landwyd versprei.

Resensie: U. Sachse