“Al is daar soveel duiwels as wat daar dakteëls in die stad is, niks sal my daarvan weerhou om daarheen te gaan nie!”
Dit word beweer dat Luther hierdie woorde geskryf het, toe sy vriende hom afgeraai het om na die Ryksdag van Worms 1521 te gaan om sy leërstellings voor die keiser en die Duitse vorste te verdedig. Sy vriende was besorg oor sy veiligheid, hulle het die keiser se belofte, dat Luther nie gearresteer sou word nie, gewantrou. Inderdaad is daar nie ’n bewys, dat hy die woorde geskryf het nie. Maar sedert die ontstaan van die lied in 1529 word die dakteëls en die duiwels hieraan gekoppel!
In sy vele liedskeppings (45 altesaam) is hierdie lied ‘n uitsondering. Dit is een van die vier liedere, wat as “vrye” digwerk beskou is, wat dus nie afgelei is van ouer voorbeelde nie. Luther het getrou sy liedere en melodië afgelei van die Gregoriaanse altaargesange van die Katolieke Kerk van sy tyd, want dit was melodieë wat sy gemeente geken het en dus sy Duitse woorde daarvoor maklik kon saamsing.
Luther wou en het met sy liedskeppinge ‘n tweevoudige doel bereik:
Die gemeente moes singend kan meedoen in die erediens, iets wat tot sy tyd nie toegelaat was nie, en die tweede doel was om deur middel van gedrukte bladjies en boekies Duitse liedere aan die huishoudings, skole en gemeentes beskikbaar te stel, sodat “Gods Woord ook singend in die volk kan leef” soos hy aan sy vriend Spalatin geskryf het.
In die jaar 1526 het Luther die Liturgie en Kerkdiensorde in Duits vertaal, sodat die gemeente in hulle moedertaal kon meedoen deur middle van gesang. Hierdie verandering het posgevat en vinnig wyd in die Duitse provinsies die reël geword. Ook die ander reformatoriese kerke, selfs in Engeland, het die nuwigheid met groot geesdrif opge- raap. Op ‘n wye front in Europa het nuwe gesange en sangbundels in vele tale ontstaan en kon deur middel van die drukkuns wyd en syd versprei word.
Iemand het eenkeer Luther se versvorm van Psalm 46 beskryf as ‘n waarderende vertolking van Ou-Testamentiese digkuns en geloof, en dit daarby in die konteks van die Nuwe Testament geplaas, waarin Christus as die “vaste burg” verstaan word. Luther het die Latynse woorde (die psalm begin met: “Deus noster refugium et virtus” ) redelik vry vertaal, maar die inhoud bondig en kragtig uitgebring. In die Duitse beryming bevat elke vers omtrent 10 meerlettergrepige woorde, daarteen staan 38 eenlettergrepiges. Dit het tot gevolg dat byna elke lyn ‘n eie werkwoord het. Dit maak die taal sterk en standvastig, elke sin is soos ‘n getuienis; kort en saaklik.
Gedurende die tyd, toe Luther die lied geskryf het, het dit glad nie goed gegaan met hom nie. Sy gesondheid was swak, vir baie weke was hy aan sy bed gekluister. Ten tye daarvan het die pes na Wittenberg gekom en almal is aangeraai om die stad te verlaat. Die universiteit het sy bedrywighede gestaak en die personeel het vir eers na ander stede uitgewyk. Luther en sy gesin het egter gebly, want: ” ‘n herder vlug nie weg van sy skape nie”. Gelukkig het niemand van sy familie die pes ernstig opgedoen nie, almal het oorleef.
Luther het nêrens vermeld hoe hy die melodie geskryf het nie. Daar word deur navorsers aangehaal dat dit vermoedelik dele van ‘n Middeleeuse Gloria is, maar geen vaste bewys kon gevind word nie. Feit bly staan dat dit ‘n buitengewoon geslaagde lied-komposisie is. Dit omvat een oktaaf, vanaf die hoogste noot en eindig op die laagste van die toonleer. Luther se oorspronklike melodie is baie ritmies, die swaartepunte in die ritme verskuif. Ons kan dit vergelyk met ons eie tyd se jazz-tegnieke. Dit is dus nie maklik om te sing nie. Om hierdie rede is die melodie vir latere gebruikers makliker gemaak deur net lang en ewe-lang note te gebruik, dit is ook die manier waarop ons hierdie wonderlike en sterk lied hedendaags sing.
U.S.