Dit is ‘n merkwaardige saak, die een van die Kruis.
Baie sien dit as ‘n klein ornamentjie aan ‘n kettinkie, wat graag om die hals gedra word. Maar as simbool en teken van die Christelike geloof is die uitbeelding van die Kruis vir baie van ons iets wat onbehaaglik, selfs vyandig is.
Oorspronklik was die houtkruis gebruik as ‘n instrument van marteling en teregstelling.
Nou word dit in ontelbaar vele kerke en oorde uitgebeeld, die balk met daaraan die liggaam van ‘n man wat tot die dood toe mishandel, ontsier en gemartel is: kan dit ‘n simbool van die geloof wees? Die Kruis herinner ons immers aan die lydensweg en dood van Jesus Christus – hoe kan dit blye boodskap wees?
Die boodskap van die Kruis is: “ ‘n mens“.
Dis ‘n mens wat sy lewe opgeoffer het vir liefde en versoening, vir medelye en solidariteit met ons op aarde, wat verlore mense is. Die boodskap van die Kruis is ‘n mens, wat die oneindige godverlatenheid van menswees tot die bitterste diepte toe deurgemaak het en selfs die dood oorwin het.
In die vorm van die kruis herken ons twee dimensies, die vertikale en die horisontale, wat met mekaar in die kruismidde verbind is. In die persoon Jesus Christus word hemel en aarde met mekaar verbind. In Hom is Godheid en menswees verenig.

Die vertikale dimensie versinnebeeld die gebeure van Kersfees; die Goddelike het neergedaal en Homself tot in alle diepte oorgegee aan hierdie, Sy wêreld, selfs tot in die dood, om daardeur ons en alles, die hele Skepping, te vernuwe en te vervolmaak.
Die horisontale dimensie is dié van die dood.
Alles, wat sterf, daal neer na die horisontale en lê magteloos op die grond. Die horisontale dimensie is gelyk aan die minus-teken‚ die inbegrip van iets negatiefs, van waardeloosheid. Alleenlik as dit „van bo af“ deurdring word deur die vertikale lewenslyn van God af, ontstaan die vorm van die Kruis; die simbool van die lewe en Opstanding. Uit die minus-telken word die plus-teken. Alles wat leef, streef na bo, groei na die lig en het die begeerte om nader aan God te wees, wil regop staan en verlos wees.
Gelyktydig is die kruisvorm, met die vier punte, die simbool van ruimte en tyd, waarin ons onsself bevind: ons plek in die wêreld word bepaal deur vier geografiese rigtings (Noord, Suid, Oos en Wes). In die Paradys is daar vier riviere. Daar is vier elemente (vuur, water, lug en aarde), wat die aarde se materiaal en kragte beskryf. Die vier seisoene en vier lewens-tydperke (kindertyd, jeugdigheid, volwassenheid en seniliteit) begelei ons deur die lewe. Ons sien dus; die getal vier bepaal ruimte en tyd vir ons.
Die teken van die Kruis, waarmee die seën uitgespreek word oor mens en wêreld, plaas ons in die heelmakende orde van ruimte en tyd, dit verbind „bo en onder“, „nou en dan“. Die teken van die Kruis sê aan ons, wat Christene is: „Gaan heen met die seën wat van bo af kom, word deel van die liefde, wat deur God in Christus aan die wêreld geskenk is, sodat dit jou vervul. En gee dan, wat jy so ontvang het, aan jou naastes aan die linker- en regterkant.
Geskryf deur Pastor Claudia Nolte-Schamm van St Martini, Kaapstad
Vertaling deur Ulrich Sachse, Kruiskerk Bellville, met goedgunstige toestemming van die skryfster
Die afbeelding van die Gekruisigde Christus is die sandsteen reliéf oor die hoofingang van die Gotiese kloosterkerk St Peter in Bad Wimpfen, Duitsland. Die foto is geneem deur U. Sachse in 2008.